Jou lag
Weef ‘n lied
Deur jou liggam.
Jou glimlag
Skryf ‘n gedig
Op jou gesig.
Jou trane
Teken ‘n toekoms
Op jou wange.
Jou hart
Klop ‘n ritme
Van verlange.
Jou lag
Weef ‘n lied
Deur jou liggam.
Jou glimlag
Skryf ‘n gedig
Op jou gesig.
Jou trane
Teken ‘n toekoms
Op jou wange.
Jou hart
Klop ‘n ritme
Van verlange.
Jy was ‘n silwer seisoen
Versier met groen verassings
Ek was natuur se weduwee
Winter-kaal en kleurloos.
Jy kon duidelik sien
My siel was was vas betrap
In ‘n gebreekte grafsteen.
En ek het niks geweet
Van roomys drome, wilger bome
Of die heiligheid van somer reën.
Ek sal nooit vergeet
Hoe, in die sterlig
Jy my naam verander het
Na ‘n gedig.
En in jou vrugbare voetspore
Was ek van voor af gebore
Terwyl jy, in die sonsopkoms van my toekoms
Vir my ‘n sandkasteel bou.
Droog en skaamteloos soos ‘n woestyn
Het ek geraamteloos verdwyn
Agter jou albaster oë.
Ek kan sien
Hoe die holte en die oorloop
Van ‘n leeftyd se hoop en verlang
Jou skielik vang.
En so raak ek verlore
Tussen die miriade woorde
Wat jy nie verby
Jou lippe kan kry.
Jou mond
Fluit vir my ‘n spruit
Wat borrel en swerwe
Op die oppervlakte van ons land.
My drome bly droë druppels
Vasgevang in die sand.
Jou mond
Is briljant.
My onderklere lê versprei
‘n Weerkaatsing van my
Twee g-strings in die cubby-hole
‘n Push-up in my handsak
Daars ‘n pantie oor die spiëlkas
En ‘n sykous opgevromel in my agterste broeksak
Waar is ek veronderstel om jou tussen in te vind?
Jy laat my dink aan fynbos en heuning
Ek voel jou rustigheid in my spiere se spanning
In die spasies tussen my kinderdae
En die masker wat ek deesdae dra
Skenk jy vir my ‘n kussing
Daars ‘n sagte plek in die holte van jou nek
Waar my trane versamel en verdamp
Jou woorde weef self-vertroue deur my vlegsel
Terwyl jou oë my leegheid blou inkleur en met vere voltooi
Jy neem die haat wat aan my ligaam klou
Saggies tussen jou vingers
En laat dit vry
Jou asem, koel teen my klam vel, verlam my
My vuiste ontvou teen jou bors en ondek jou hart se ritme
Uitgeput teen jou skouer
En opgekrul soos ‘n baba
Draai jy my in drome toe
En in die holte van jou hand
Lê daar ‘n klip
Die skok veroorsaak
Dat ek jou skielike skuld erkenning in asem
En agter my tande betrap
En tussen my wange vasvang
Ek het mos vroeg geleer
Om die tekens te ignoreer
En jou leuens te glo
Ek was vir te lank geneig
Om an jou valsheid soos ‘n stokkielekker te suig
Jou bloeiende, blootstellende geheim
Begin teen my tong en my tande vas te roes
So taai soos toffie, bitter soos moerkoffie
Bind dit my antwoord an my verhemelte vas
Die spoeg op my lippe
Is besmet met jou verraad
En jou patetiese verskonings
Van “so jammer” en “te min praat”
Terwyl jy ‘n tree terug trap
En voor jy my oë kan vergeet
Vat ek ‘n laaste hap
Ek sluk ons geskiedenis in
Met my kop tussen my knee
En die smaak van gal in my keel
Val die naarheid my oor
My braking onderbreek die stilte
En die teerpad word verkleur
Met ons verrotende liefde
Jy lat my dink an fynbos en heuning
Ek voel jou in my spiere se spanning.
In die spasies tussen my kinderdae
En die masker wat ek deesdae dra
Skenk jy vir my ‘n kussing
###
Geen storie uit my hede
Sal so vassit in my verlede
Soos daai onverwagte toneel
Toe ek en jy laatoggend ‘n tafel deel
My woorde sit vas in my keel
Terwyl ons oë soos kinders hande vat
En met mekaar speel
###
As ek my hande saamvou om te bid
Bly jou hitte tussen my palms vas sit
My naels stempel sekels in my kneukels
Soos ek die vlamme probeer dooddruk
En begin an my gebed verstik
###
Droog en skaamteloos soos ‘n woestyn
Het ek geraamteloos verdwyn
Agter jou hunkerende oe
En voel teselletyd
Hoe die holte en die oorloop
Van ‘n leeftyd se hoop en verlang
Jou skielik vang
En ek raak verloore
Tussen die miriade woorde wat jy nie verby
Jou lippe kan kry
###
Om na jou woorde te luister
Voel soos die sagte fluister
Van ‘n somerrok se satyn
Teen my verlangende vel
###
‘n Eggo van jou naam
Vibreer in my geraamte
As ek my arms om my vou
Of an die binneste van my wang begin kou
###
Jou glimlag sit nog vas an my mou
En jou woorde basyn soos ‘n luiende kerk klok deur my borskas
‘n Fragment van jou fluister sit nog vas tussen my tone
###
Toe ek vir die eerste keer sien
Hoe die maanlig in jou oë skyn
Het die dogtertjie in my se vrese verdwyn
###
Sal ek virewig ‘n bloeisel bly in jou geue
Tot jy die dag besluit om my gesig
Uit jou lewens gedig uit te vee?
###
Jy vlek my in stemme van ‘n kinder koor
En verf my die kleur van ‘n engel se vlerk
Jy het jou merk in my murg gelos
###
Hoe is ek ver onderstel om jou te vergeet?
Ek het per ongeluk ‘n paar van jou sinne geslik
En het klaar an meeste van jou woorde begin kou
En an jou leuns begin verstik
###
Die swaartekrag in jou oë
Skep golwe in my trane
Die weer klink van jou woede word vasgevang
In die dimpel op my regter wang
###
Daar’s ‘n eindelose stilte
Wat tussen ons bestaan
Dis so droog soos ‘n woestyn
En so nat soos die oseaan
Dis so klein soos ons drome
En so groot soos die maan
‘n Ruimte sonder klank
Word tussen ons geraam
Ek sien dit in jou oë
Jy herken dit in my treë
Ek ruik dit aan jou asem
Jy proe dit in my tee
Ek wil jou nie bekommer
Jy wil my beskerm
Ons bly maar liewers stil
Dis beter as om te kerm
‘n Vergete fluister breek die stilte
Die leegheid verdwyn
Woorde word duidelik
Sagte sinne verskyn
Net soos die see in ‘n skulp klink
Of die wind ritsel deur blare
Besef ons waar die verlang lê
Na ‘n leeftyd se jare
Ons tonge en ons lippe
Vorm verhale van vroeë dae
Wat weerklink tussen ons lywe
En tot rus kom op ons glimlae
“Wat as ons die sprokies weer vergeet?” vra jy
En ons stemme gaan lê?
En wat as die stilte ons vreet?
As ons niks oor het om te sê?”
“Onthou dan hierdie oomblik,” sê ek
En hoe ons woorde ons omring
Die dag dat ons ophou praat
Is die dag dat ons begin sing”
Die ou vrou sit en pyp rook op die stoep
Terwyl die son sak
Sy sien my raak
En begin te roep.
Sy sê, “Kind
Kom bietjie nader.”
Sy sê, “Kind
Jy lyk net soos jou vader.”
Met krag
Wat ek nooit sou verwag nie
Gooi sy haar arms om my lyf
Sy druk my styf.
En sy lyk net soos ‘n spook
Sy ryk na rook
Sy sê, “Kind
Kind help my.
Daar is dele van my lewe wat verdwyn.
Help my hul vind.”
Silwer soos spinnerakke
Is haar haare
Haar stem klink
Soos herfs se blaare.
Sy rus haar kop op my skouer
Sy haal moeilik asem
Sy vluister, “Kind
Jou hart klop nes jou ma s’n.”
Om ons word dit stadig skemer
Om ons word dit skielik somer
Sy sê, “Kind
Hou my nader vas.”
“Want jy ryk nes ek,” sê sy.
“Toe ek nog mens was.”